{ Moeg En Oorlaai? }


Probleme se oplossing is baie keer eenvoudiger as wat jy dink. Dalk moet jy net jou verwagtinge aanpas. En as dit vir jou voel of niks wat jy doen, suksesvol is nie, doen jy dalk te veel goed. Los 'n paar dinge ! G'n mens kan alles goed doen nie. Of dalk vergelyk jy jouself heeltyd met ander mense om jou. En as jy jou met ander gaan vergelyk, gaan jy nooit suksesvol voel nie, want geen twee mense op aarde is eenders nie. Daar gaan altyd iemand wees wat iets beter as jy kan doen, en iemand wat dit slegter as jy doen.

Almal van ons is uniek en het ons eie sterk punte. Ons is elkeen goed op ons eie unieke manier. Hoe vervelig sou dit nie gewees het as almal alles ewe goed kon doen nie ! Wie moet dan wat doen ? Daar is so baie goed op aarde wat moet gebeur, en daar is 'n "doener" vir elke ding.

As jy so daaraan dink, is dit eintlik sinneloos om op jou swak punte te fokus. Konsentreer eerder op dit wat jy goed doen, soday jy daarin beter kan word. As dit is om die beste kleremaker te wees, doen dit. Of as dit is om 'n  kleurryke, interessante ma vir jou kinders te wees, doen dit. Geen mens op aarde is minderwaardig teenoor 'n ander een nie. Al is dit die boodskap wat jy soms kry, dit is onwaar.

Die lewe is 'n ondekkersreis, een waarop jy jouself ook leer ken. So, sien elke dag uit daarna om agter te kom wie jy is en waarheen jy op pad is. En die belangrikste van alles......geniet die proses.