{ Detoks }


Wanneer jy detoks, gee jy jou lyf kans om homself skoon te maak. Ek is ‘n groot voorstander daarvan, mits dit reg gedoen word. Radikale goed, soos om ‘n week lank net water te drink, werk nie. Maar as jy jou lyf op ‘n gesonder manier kans gee om te stabiliseer en te herorganiseer, sal dit jou baie goed laat voel.

Wanneer jy effens minder en gesonder eet, gee jy jou lewer en niere ook ‘n blaaskans. As ek byvoorbeeld by ‘n familiekuier heeltemal te veel geëet het, sal ek die volgende dag ‘n tipe detoks doen. Dan eet ek minder en sorg dat ek kos met baie vessel en water inneem, soos vrugte en groente, en verkieslik gestoomde groente.

Die beste tyd om ‘n detoks te doen is na ‘n tyd van ooreet, soos die Desembervakansie, die Winter of na ‘n naweek van baie eet en kuier. Op die manier gee jy jou lyf weer kans om te herstel. As jy detoks sal jy baie voordele ervaar. Jy sal meer energie hê, jou vel sal beter lyk en jy sal sommer oor die algemeen beter voel. Maar onthou dat ‘n detoks nie ‘n diet is nie.

Enige lyf kan baat by ‘n detoks nou en dan om die spanning van die daaglikse lewe ‘n bietjie te verlig.