{ Wees Geduldig }


Ek loop al van verlede week af met die prentjie van ons voortuin in my gedagtes. Vir my lyk dit op die oomblik soos ‘n woestynlandskap. Maar in my hart hoor ek die fluistering van God se stem wat my herinner oor Wintertyd, wagtyd, rustyd…..


Elke oggend as ek in my kar klim, kyk ek uit oor die mistroostige toneeltjie. Elke oggend kyk ek hoopvol of een of ander plantjie nie dalk al uit pure oorhastigheid vanself opgekom het nie.
Ons het sand gestrooi om die dreinering van die effe “amazon” grond minder te maak. Hier en daar beur ‘n grondbedekkertjie moedig voort.


Oor die naweek neem ek my voor om te gaan plantjies koop, maar ek kom nie daarby uit nie. “Dis nog nie tyd vir plant nie, wag net.” Hoor ek my hart sê. Maar ten spyte van dit wat ek voor my sien, leef daar ‘n onverklaarbare hoop in my hart. Ek weet, met die breek van elke nuwe dag kom die Lente al hoe nader.

Klaagliedere 3 “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke more nuut. U trou is groot.”
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na Sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.

Mag God jou en vir my die genade gee om stil op Hom te wag – al voel die Lente soms ver.