{ Kom Sit Sommer Net }


Om voluit te bly leef vra dat ons,ons longe vul met God se gees. Teug na teug. Maar dikwels oorleef ons net. Met 'n sug en 'n "ag wat."

" Dalk sê ons vir onsself: "Ek het nie tyd om stil te sit nie. My gebede is in elk geval nie veel werd nie. Ek bid en God gee nie wat ek vra nie. Of ek bid nie en Hy gee onverwags 'n groot geskenk. Hy het reeds besluit hoe my lewe gaan verloop. Niks wat ek doen gaan tog 'n verskil maak nie."

Dan is dit goed om 'n slag deur die Bybel te blaai. die name van gelowiges wat moedeloos was en gevoel het die Here gee nie weer om nie, kom een na die ander verby: Elia onder die besembos, Job op die ashoop, Dawid op vlug....... Keer op keer lees ons dat hulle juis in hulle verlatenheid nie op hou roep het na God nie.

"Gryp die kans om alleen met God te vertoef, al moet jy jou werk onderbreek. Niks sal skade ly nie . Dinge is nie so belangrik soos jy dink nie."