{ Wat Is 'n Goeie Lewe ? }


Party mense dink hulle leef ‘n goeie lewe as hulle goed lyk. Regoor die wêreld is dit baie belangrik vir mense om goed te lyk en hulle sal enigiets doen om goed te lyk – op sonbeddens lê, raad kry oor kleurkoördinasie vir hulle huise, hulle hare by ‘n duur haarkapper laat doen, selfs vet laat uitsuig.
Skoonheid en ‘n mooi uiterlike is vir ons baie belangrik. Maar weet jy wat is die probleem daarmee ? Daar is nie ‘n standaard wat bepaal word deur die wêreld presies hoe ‘n mooi uiterlike lyk nie. Dit wat vir jou mooi is, is dalk nie vir iemand anders mooi nie; en omgekeerd. Mense verskil oor wat dit beteken om goed te lyk.

Sekere mense dink weer hulle leef ‘n goeie lewe as hulle goed voel. Hulle sal enige iets doen om goed te voel, of dit nou beteken om in ‘n warm bad te lê, Disneyland toe te gaan of dwelms te gebruik. Hulle is die heeltyd besig om plesier na te streef. Die standaard wat hulle vir hulself stel is. “ Doen dit as dit goed voel.”

Dan is daar ook diegene wat dink ‘n goeie lewe beteken om soveel as moontlik te hê. Hulle probeer soveel as moontlik besittings in hul lewe te hê, en dink hulle sal gelukkig wees as hulle dit alles kan kry.

Maar God skets egter ‘n heel ander prentjie op van wat dit is om ‘n goeie lewe te leef. Hy sê dat ‘n goeie lewe nie gebaseer is op goed lyk, goed voel of goed hê nie. Hy sê ‘n goeie lewe is gevul met goed wees en goed doen.
“Wanneer jy goed is en goed doen, sal jy ook sommer goed voel, en goed lyk.”

Maar die vraag wat ek myself baie keer so afvra is: Hoekom moet ‘n mens goed wees ? Hoe sal ek voordeel trek uit hierdie leefstyl van goedhartigheid ?

Wanneer jy goed doen en goed is, sal jy goed voel oor jouself; omdat jy dan doen waarvoor jy geskep is. Dit gee ‘n mens ‘n dieper bevrediging as die bevrediging wat mens kry uit plesierjag en uiterlike skoonheid.
‘n Mens kry nie ‘n gesonde selfbeeld omdat jy goed lyk nie, want ‘n mooi uiterlike kan later verdwyn. Jy kry dit ook nie omdat jy goed voel nie, want jy voel nie gedurig goed nie. Dit kom ook nie daarvan om goed te hê nie, want materiële dinge is vandag nog hier, en môre verdwyn hulle. ‘n Langdurige selfbeeld word geskep deur goed te doen en goed te wees.
Dit is die doel waaroor God jou gemaak het. So doen iets goeds vandag en voel die skoonheid in jou binnekant
.