{ Vergewe En Vergeet }

Natuurlik is dit moeilik om iemand wat jou seergemaak het te vergewe, wat nog te sê Lief te hê! Iemand het eenkeer gesê: “Vergifnis is ‘n Goddelike ding, nie ‘n menslike ding nie.”


Jy kan dit nie alleen doen nie – Jy het God se hulp nodig. Vergewe is vir ons as mens nie dieselfde as vergeet nie. Ons is nie God nie. As God sê Hy vergewe ons, dink Hy nooit weer aan daardie sondes nie, maar ons is mense en ons sukkel om te vergeet. Dis net God wat ons kan help om iemand wat ons seergemaak het, te vergewe.

Vergifnis is ‘n proses, en dit vat tyd. Dis soos om op ‘n reis te gaan – ‘n reis wat jy nie sonder God se hulp kan aanpak nie.

Jy vergewe iemand, maar dan loop jy daardie person wat jou seergemaak het weer raak. Dit krap weer ou wonde oop – en dan moet jy van voor af vergewe.

Om nie te vergewe nie, is soos om gif te drink en te dink die persoon vir wie jy kwaad is, gaan doodgaan. Die een wat jou seergemaak het, weet nie eers van hierdie worsteling waardeur jy gaan nie! Sy lewe gaan aan, maar dis al waaraan jy dink. Hierdie seer neem jou hele lewe oor.

Vra die Here om jou te help om soos Hy na daai persoon te kyk. Dis net Hy wat ons harte kan verander. As jy jou oopstel vir Sy liefde, kan jy dit ook vir ander gee.